Kom Groet die Grotman by die Roodepoortteater
Dit is twintig jaar later. Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook,
Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen Mans en Vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus. Die skreeusnaakse Wynand (Karate Kallie) van Vollenstee is te sien in die rol van Grotman 2, en Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie.
Groet die Grotman 2 besoek die Roodepoortteater vanaf 23 tot 28 Maart. Besprekings kan gedoen word by (011) 472-1374 of (011) 674-1357 of bespreek aanlyn www.roodepoorttheatre.com. Vir groepbesprekings, skakel Lefra Produksies by (011) 815-3000 of stuur ’n e-pos na admin@lefra.com
In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld. Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram). “Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak” sê skrywer
en regisseur Frans Swart. “Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so
bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.” Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het … meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar! Lefra het die Grotman nou vir die afgelope agt jaar laat rus in sy grot … tjoepstil! “Maar toe vanjaar spring daar ‘n nuwe Grotman uit wat sê: Hier is ek weer. Ek is uit my grot uit en het baie nuwe stories om te vertel”, vertel Frans. “Dis 20 jaar later! Grotman en Elize is wyser … of is hulle? Het Grotman sy wêreld al verbreed om by Elize se wêreld aan te sluit. Het Elize haar wêreld vernou om so bietjie na Grotman se gefokusde wêreld te kom? Ek gaan nie veel uitlap nie … gehore moet self kom kyk en lekker vir mekaar kom lag!” Groet die Grotman 2 word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive, en Savvy Holdings aangebied.
Frans Swart, wat al as die klugkoning van Suid-Afrika bestempel is, het die nuwe teks geskryf wat splinternuwe aksies tot gevolg het. “Natuurlik moet ons by die teks hou, maar met Wynand van Vollenstee as die Grotman weet
mens nooit nie. Hy is ‘n briljante akteur en lees elke aand die gehoor en pas ook sekere tonele aan om by die gehoor aan te pas. So mens weet nooit wat om te wagte te wees nie,” lag Frans. Wynand het as jong akteur sy
tande by Lefra kom slyp in die klugte soos My Vrou se Man se Vrou. Daar het Frans hom al raakgesien as briljante komiese speler. “Sy komiese tydsberekening is perfek en dan het hy die vermoë om enige karakter ongelooflik goed te vertolk. Glo my in Grotman 2 vertolk hy ‘n swetterjoel karakters! Dit was net ‘n logiese keuse dat Wynand die
volgende Grotman moes wees.” Fliekgangers sal Wynand van Vollenstee onthou as Kallie in die rolprent Karate Kallie, Bennie in Platteland en die braaivleisman in Superhelde. Televisisiekykers sal hom herken as Gielie in Ouboet en Wors. Op die verhoog was hy te sien as Barta in die produksie Fiela se Ander Kind en as Kleinboet in Ons vir Jou. Hy verskyn in twee van Lefra se klugte, naamlik My Vrou se Man se Vrou en later in My Man se Skelmpie se Skelmpie se Vrou. Dié veelsydige akteur het sy Nasionale Drama Diploma in 2007 aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie verwerf, waar hy ook aangewys is as Beste Akteur van die Jaar.
Vrouens … julle gaan julle mans herken in Groet die Grotman 2 en jy kan gerus maar jou man in die ribbes pomp. Meneer, jy gaan beslis jou vrou in Groet die Grotman 2 herken … so wys maar gerus die wysvinger vir Mevrou … net nie die middelvinger nie! Saam gaan mans en vrouens weer heerlik lag en sommer gratis terapie ontvang vir die huwelik. Kom kyk Groet die Grotman 2!