Zaan Sonnekus stel tweede enkelsnit vry!
Zaan Sonnekus, met sy donker lokke en poëtiese lirieke, het ’n omwenteling in die plaaslike musiekmark veroorsaak met sy treffer, Ek Kan Net Bid, wat vroeër vanjaar vrygestel is en steeds op elke prominente radiostasie gehoor kan word.
Nóú is hierdie twee-en-twintig-jarige rocksensasie terug met nog ’n liedjie wat luisteraars se asems gaan wegslaan.
HOOG is ’n alternatiewe folk-snit, uit dié Pretorianer met sy kunstige versameling tatoes se eie pen, en kan beskryf word as ’n hoopvolle goedvoel-liedjie met ’n donker laag.
“Die lewe is crazy. Ek dink ons almal probeer nog onsself vind, of ten minste net weer ons voete vind, in tye soos vandag… dinge is nie meer so eenvoudig nie. Baiekeer moet jy in die soektog na jouself eers verlore raak,” verduidelik hy. “Jy soek na jouself as jy hoog is (op kruine) en soms as jy laag is (in ’n trog) en is dan oneerlik, want jy gee voor dat jy okay is omdat jy nie wil hê mense moet weet hoe jy regtig voel nie. In hierdie “soektog” na jouself stoot jy dalk mense weg en verloor hulle in die proses, al was dit nie jou bedoeling nie. Hulle is hoog en laag op hulle eie tyd en die hartseer ding is dat hulle nie altyd vir jou kan of wil wag om jou voete te vind nie.”
Dit is die musikant se tweede snit saam met Tertius Human van CoolerBox Brothers en dit is nader aan die klank wat hy graag wil weergee as sy vorige werk. “HOOG is anders as enige van my vorige songs, maar definitief nader aan die klank waarheen ek wil beweeg en ek dink dis iets wat oud en jonk sal geniet,” sê hy. “Die liedjie gaan hulle laat goed voel en ek is seker van die lirieke sal aanklank vind in hulle lewens. Ons almal gaan deur hoogte- en laagtepunte.”
Die musiekvideo sal in September vrygestel word.
HOOG is die tweede enkelsnit vanaf sy komende album, wat in Oktober uitgereik word, waaroor hy baie opgewonde is. “Ek dink ek het êrens in 2020 uiteindelik my klank gevind en mense sal dit hoor in die album wat op pad is. Hierdie snit is ’n goeie inleiding daarvoor.”
Zaan het in Bloemfontein grootgeword en was nog altyd versot op musiek. Toe hy sy eerste kitaar kry op die ouderdom van tien, was daar vir hom geen twyfel oor wat hy met die res van sy lewe wou doen nie en daarom het hy na skool musiekvervaardiging gaan studeer by COPA.
Hierdie sielvolle liedjieskrywer en veelsydige musikant, met sy leerbaadjie en unieke stem, se droom is om betekenisvolle musiek terug te bring na die Afrikaanse mark en nuwe lewe in die bedryf te blaas… en met wat ons reeds die afgelope ruk van hom gehoor het, gaan hy beslis hierdie doelwit bereik.
HOOG is nou aanlyn op alle digitale platforms beskikbaar. Laai dit hier af: https://zaansonnekus.hearnow.com/hoog
Facebook: https://www.facebook.com/ZaanSonnekus.music
Instagram: @Zaan_Sonnekus
Webblad: www.zaansonnekus.com
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCCZIFQkm_94s3jtwi81kM_g
SoundCloud: https://soundcloud.com/zaan-sonnekus
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za