Alles Malan is terug en Herman Kleinhans sing weer die gewilde temalied!

Herman Kleinhans is ’n Ghoema-bekroonde musikant wat aanvanklik bekendheid verwerf het as Afri-Visie-wenner en vir sy betrokkenheid by die groep, TWEE.

In 2020 het hy die enkelsnitte, Vliegtuig en Dankie, vrygestel wat vandag nog gereeld oor radiostasies landswyd gespeel word.

Nou is dié veelsydige musikant terug in die kollig met die vrystelling van sy nuutste enkelsnit, HAAL ’N BIETJIE ASEM, wat ook die temalied is van die gewilde kykNET-reeks, Alles Malan, wat einde November 2021 weer op die kassie te sien is.

Volgens Kleinhans, wat dié liedjie spesiaal vir die reeks geskryf het, is die tema universeel en spog dit met ’n lekkerluister-deuntjie wat jou dadelik intrek. “Die lewe dikwels vol haakplekke en seer, maar dit raak makliker wanneer jy saam met jou mense staan,” verduidelik hy. Die Malans van ‘Alles Malan’ is ’n goeie voorbeeld hiervan. Solank daar eenheid is, kan niemand jou onderkry nie,” sê hy.

Dit was vir hom ’n groot voorreg om deur Corné en René van Rooyen genader te word vir hierdie projek en hy beskou dit as ’n groot mylpaal in sy loopbaan om deel te wees van ’n reeks wat al soveel rekords gebreek het.

“Net om genader te word, was reeds ’n groot veer in my hoed. Nadat ek die draaiboek gelees het, het die res vanself gebeur,” verklap hy.

Die liedjie is deur Tertius Human van Vonk Musiek by Coolerbox Brothers Studio vervaardig en is die derde enkelsnitvrystelling vanaf sy album, Ruite Oop, wat aanlyn beskikbaar is by: https://lnk.to/081txIZY. Dit is saam met sy eie toepassing, ShareTime, uitgereik.

“TWEE het die Afri-Visie-kompetisie gewen. Van die staanspoor af, was ons mal oor hulle klank. Herman het ’n manier om met jou menswees te resoneer en ’n diep gegronde emosie binne jou te ontlok. Dit het ons geïnspireer en was die gevoel wat ons in ‘Alles Malan’ wou ontgin”, sê vervaardiger René van Rooyen oor hulle keuse om hom te nader oor die temalied.

Volgens René, kan kykers uitsien na nog meer beproewinge vir die Malan-familie in die volgende seisoen van dié gewilde program. “Nico en Lee-Anne gaan ’n baba hê, terwyl Frik sukkel met Malan Vervoer en Tessa se werk floreer. Brenda probeer die besigheidswêreld betree, terwyl Elani in haar liefde tussen Johan en ’n nuwe man moet kies. Freek raak smoorverlief op die skool se gewildste meisie, maar moet haar eers uit die kloue van ’n gevaarlike matriekseun red,” deel sy. “So ons ondersoek die veranderende manlike rol in baie moderne Afrikaanse gesinne.”

HAAL ’N BIETJIE ASEM word ook gekomplementeer deur ’n musiekvideo wat wys hoe verskillende gesinne en enkellopendes in hulle sitkamers saamkom om Alles Malan te kyk en Herman loop onopsigtelik deur elkeen se sitkamer.

“Die idee was om verskillende sitkamers te wys waar ‘Alles Malan’ gekyk word, maar sonder mure om die idee te gee dat mense dié reeks in hulle binnekamers toelaat, net soos wat die kykers in die Malans se wêreld en verhoudings toegelaat word wanneer hulle die storie kyk,” verduidelik vervaardiger Megan Gannon. “Ons het ook ’n sisteem gebou sodat al die televisies dieselfde episode uitsaai om dit te laat lyk asof almal regoor die land saam kyk.”

Dis is in Atlantic Studios in die Kaap verfilm deur ’n kameraman op rolskaatse. Pierre-Arnold Theron van DPK Produksies het die konsep en regie behartig en was ook mede-vervaardiger.

Kyk die video hier: https://youtu.be/2RWcJQm_ifk

Laai die lied hier af: https://lnk.to/081txIZY

SOSIALE MEDIA SKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/hermankmusiek
Twitter: @HermanMusiek
Instagram: @hermankleinhans
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCipCFcgkd31TNH_2fxlJ_dw

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Gizela Arndt
Sel: 083 399 6869
E-pos: gizela@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za