Gewilde kykNET-oggendprogram, Ontbytsake, vier ‘n duisend episodes op die kassie!

ONTBYTSAKE, die gewilde ontbytprogram wat daarop fokus om vir klein- en medium-sakeondernemings nasionale blootstelling te gee, is al vir die afgelope een-en-twintig-jaar ’n onmisbare deel van baie Suid-Afrikaners se naweek-oggendroetine.

Eerskomende Saterdag, 23 Oktober 2021, vier Dawie Roodt (ekonoom), Leon Gropp (musikant), Eloïse Cupido (aktrise), Corli Botha (sjef) en die produksiespan agter-die-skerms fees wanneer dié program vir die duisendste keer op kykNET uitgesaai word!

“Ek is geweldig trots op hoe ver die program gekom het, veral as ek terugdink na hoe ons in ’n leë kantoor ingestap het met net een rekenaar op 14 Februarie 2000,” deel regisseur Melinda Meyer.

ONTBYTSAKE is ’n spanpoging, wat met tyd verbeter en gegroei het tot waar ons vandag is. Ons voltydse span bestaan uit elf mense, asook ’n vryskut-span wat help om die program op die lug te kry,” voeg die skepper en uitvoerende vervaardiger, Johann Joubert, by.

Hierdie spesiale episode word by Stark Ateljees, waarvandaan hulle elke week uitsaai, in Randburg verfilm en gaan verskeie bekende gaste insluit, waaronder vorige aanbieders soos Elma Postma, Milan Murray, Kim Cloete en vele meer. Daar gaan ook teruggekyk word na alles wat vir meer as twee dekades die “ontbytnuus” gemaak het.

Geen feesviering is egter volledig, sonder ’n lekker glasie vonkelwyn nie en Jakkalsvlei Wyne gaan nie net sorg vir drankies op die groot dag nie, maar ook vir spesiale geskenke vir elke gas.

Die program, wat oorspronklik bekend gestaan het as Vertoonvenster met die gewese skoonheidskoningin en kontinuïteitsaanbieder Robyn Bohdal as aanbieder, het op 6 April 2000 vir die eerste keer op televisie verskyn. In 2003 is die naam verander na ONTBYTSAKE en het Dawie Roodt die hoof-aanbieder geword. Sy verfrissende humorsin, bereidwilligheid om nuwe dinge te probeer en wye algemene kennis, het van hom ’n kyker-gunsteling gemaak.

Volgens Johann het die voormalige Amerikaanse president, Ronald Reagan, die idee vir die program by hom laat posvat. “Ek het ’n artikel oor hom gelees waarin hy gesê het dat die ruggraat van enige land se ekonomie die entrepreneurs van klein- en medium-ondernemings (KMO’s) is. Dit het my toe geïnspireer om ’n konsep te ontwikkel om vir sulke ondernemings bekostigbare blootstelling te bied om hulle sodoende te help. Besigheidsvriende het my gehelp om die projek volledig te ontwikkel voordat ek dit sowat ’n jaar later aan kykNET gaan voorlê het. Dit was ’n baie ongewone konsep en ons het onbewustelik baanbrekerswerk gedoen.” 

Oor die jare het hulle met verskeie spesiale gaste gesels, waaronder Leon Schuster, Dowwe Dolla, Mejuffrou Dwergie, Hein Wagner, Pieter du Preez en vele meer en die span is dit eens dat elke episode vir hulle ’n hoogtepunt is.

ONTBYTSAKE is ’n lekker gemaklike kuierprogram wat blootstelling gee aan van die land se voorste ondernemings en dorpe en dit is bitter moeilik om uit te sonder watter een van die duisend episodes ons gunsteling was. Ons voel egter bevoorreg dat dit vandag ’n nasionaal-erkende en baie geliefde program is,” sê Melinda.

Na die feesvieringe, beplan die span om harder te werk as ooit om die program te verbeter en seker te maak dat klein besighede die nodige ondersteuning kry. “Ons doel is om aan te hou om vir kykers ’n program te bied wat hulle nie wil mis nie en om  vir ondernemings die geleentheid te bied om blootstelling vir hulle besighede te stimuleer,” sluit Johann af.

ONTBYTSAKE word elke Saterdag regstreeks uitgesaai op kykNET (kanaal 144) van 07:30 tot 09:00. Diegene wat dit oor die naweek misloop, kan op ’n Sondagoggend (07:30 tot 09:00) of Dinsdag en Donderdag (13:00 tot 14:30) op kykNET opvang, of op kykNET & Kie (kanaal 145) op Saterdae (9:30 tot 11:00), Sondae (6:00 tot 07:30), Dinsdae of Donderdae (11:30 tot 13:00).

Moenie hierdie Saterdag, 23 Oktober 2021 se spesiale program misloop nie!

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook:
 https://www.facebook.com/ontbytsake
Twitter: @ontbytsake
Webblad: www.ontbytsake.co.za

PUBLISITEIT EN BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za