Suid-Afrikaanse regisseur lewer demoniese fliek!

Tradisionele besetenheid ontmoet moderne tegnologie in DEMONIC, die Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer en regisseur, Neill Blomkamp, se eerste poging in die gruwelgenre, wat ’n innoverende mengsel van die bonatuurlike en wetenskapfiksie bied.

Volgens Blomkamp is die idee vir dié rolprent deur verskeie faktore geïnspireer. “Die pandemie het baie van my ander projekte op ys gesit en ek wou iets doen wat ons kon beheer en verfilm. Daarom het ek besluit om my hand aan ’n gruwelprent te waag. Ek wou ook graag van nuwe tegnologie, genaamd volumetriese vaslegging, gebruik maak wat perfek vir hierdie genre werk. Ons moes dus ’n storie skep wat hierdie elemente insluit.”

DEMONIC gaan oor die stormagtige verhouding tussen ’n dogter en haar ma (wat ’n misdadiger is), nadat ’n mediese firma hulle ongewone herontmoeting ondersoek.  

Wanneer Carly (Carly Pope) uitvind dat haar vervreemde ma – Angela (Nathalie Boltt) – ’n veroordeelde massamoordenaar, in ’n koma is, stem sy teësinnig in om deel te neem aan ’n nuwe tipe terapie wat haar in staat stel om haar ma se kop binne te dring en met haar aktiewe brein te kommunikeer. Natuurlik kom hierdie avontuur met waarskuwings oor wat kan gebeur wanneer herinneringe deurmekaar raak of iets skeefloop.  

Onder die wakende oog van twee kenners, ’n dokter Michael (Michael J. Rogers) en ’n neurowetenskaplike Daniel (Terry Chen), dring sy die deurmekaar kop van haar ma binne en dinge verloop nie soos beplan nie – Carly ontdek ’n kragtige bonatuurlike element wat verantwoordelik is vir haar ma gewelddadige dade van twee dekades gelede.

Wanneer gebeure uit die verlede by haar begin spook, roep Carly die hulp van ’n ou vriend (Chris William Martin) in om te help keer dat die demone hulle nuwe gasheer binnedring. Dit is maklik om met Carly se karakter te identifiseer soos wat sy probeer om onderdrukte herinneringe te verwerk, met Martin se ondersteuning. Kandyse McClure sluit dan by hulle aan om die atmosfeer te verlig.

DEMONIC is visueel baie kreatief vasgevang en die virtuele realiteit-tonele het ’n baie kenmerkende hiperwerklike gevoel. Die simulasie waardeur Carly in Angela se gedagtes loop, is besonders boeiend en verken die droomwêreld op ’n baie interessante manier.

“Ek het nie probeer om te veel wetenskapfiksie in te sluit nie, ek het slegs probeer om interessante idees te ondersoek,” verduidelik Blomkamp. “Die konsep van die brein as ’n rekenaartoestel vir eksterne sintuie, en die idee dat alhoewel dit uit jou liggaam kom dit steeds aan ’n ander bron verbind kan wees, is iets wat my gefassineer het.”  

“Ons het van nuwe tegnologie, volumetriese vaslegging, gebruik gemaak wat nog nooit in so ’n mate in hierdie tipe rolprent gebruik is nie. Dit is basies ’n drie-dimensionele video, waar jy jou akteurs in geometrie verander. Jy het sowat 260 kameras nodig wat op ’n spesifieke manier saamgestel is sodat jy jou akteurs van alle kante af kan sien.”

Nog ’n interessante en vreemde logiese kinkel uit die een-en-twintigste eeu, is Blomkamp se weergawe van die Vatikaan wat van virtuele realiteit-tegnologie gebruik maak om diegene wat deur demone beset is op te spoor. 

Blomkamp het baie nou saam met sy fotoregisseur, Byron Kopman, gewerk om die perfekte gevoel vir die rolprent op te tower. “Ek hou nie daarvan as die donker omgewing in ’n gruwelprent te veel beligting het en nagemaak lyk nie. So, om die beligting so eg en natuurlik as moontlik te maak was ’n groot punt van bespreking. Ons het byvoorbeeld tonele wat slegs belig is deur ’n kar se ligte of flitse wat die akteurs vashou – geen maanlig met rook wat in die lug hang nie.”  

Net soos met enige ander gruwelprent, het die klankbaan ’n groot rol gespeel. Blomkamp het Ola Strandh, wat bekend is vir sy bekroonde musiek in verskeie videospeletjies, vir DEMONIC gebruik.  

“Musiek is vir my ’n groot bron van inspirasie en wanneer ek iemand raakloop van wie ek hou, maak ek ’n nota daarvan. Ek het Ola se musiek gehoor wat hy vir videospeletjies gemaak het en onmiddellik daarvan gehou. Dit het my nie noodwendig dadelik aan ’n gruwelprent laat dink nie, maar ek was beïndruk deur wat hy met elektroniese klanke kan doen. Toe ek begin musiek soek vir hierdie projek, het ek hom gekontak om te hoor of hy belangstel en ons het heerlik saam gewerk.”

DEMONIC is ’n gruwelrolprent, met ’n tegnologiese kinkel, wat jou van begin tot einde op die punt van jou stoel sal hou.

Die rolprent word plaaslik versprei deur Filmfinity Edms (Bpk.) en sal vanaf 19 November 2021 in plaaslike bioskope te sien wees.

Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=EYXLKC5xd7Q

SOSIALEMEDIASKAKEL
Facebook: https://www.facebook.com/TeamFinityZA/

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za