Sterbelaaide rolverdeling ondersteun nuweling, Clifford Joshua Young, in nuwe Brett Michael Innes-Komedie, Daryn’s Gym
eVOD, in samewerking met Nostalgia Productions en TMPC, reik met trots die lokprent uit van DARYN’S GYM, ’n komiese kamma-dokumentêr deur skrywer en regisseur, Brett Michael Innes, wat nuweling Clifford Joshua Young aan plaaslike gehore bekend stel. Hy word ondersteun deur plaaslike gunstelinge soos Hlubi Mboya, Siv Ngesi, Natasha Sutherland en Deon Coetzee.
Hierdie fliek (’n Dawid en Goliat-verhaal) speel af in ’n familiegimnasium in Randburg en vertel die storie van Daryn Jnr (Young) se struwelinge met Funi (Mboya), die genadelose eienaar van ’n multinasionale fiksheidsentrum. Die rolprent sal vertoon word by die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Rolprentfees op 25 November 2021, voordat dit plaaslik op eVOD (https://watch.evod.co.za) uitgereik word in Desember vanjaar.
Alhoewel Brett Michael Innes bekend is vir hartroerende dramas soos die SAFTA-bekroonde Sink (2017) en Fiela se Kind (2019), stel sy nuutste projek ’n ander sy van hom ten toon.
“Ek het dit baie geniet om die uitdaging van ’n nuwe genre aan te pak,” verklap Brett wanneer jy hom uitvra oor sy nuutste vrystelling. “Alhoewel ek met tye onseker gevoel het, het ek besluit om op my drama-ervaring staat te maak en op die waarheid, eerder as die humor, te fokus. Persoonlik, was ek nog altyd aangetrokke tot komplekse rolprente wat die swaarkry van menswees ondersoek, maar selfs ek moes erken dat inperking ons almal swaar getref het en dat niemand nou lus is vir ’n hartseer fliek nie. Net soos ‘Ted Lasso’, hoop ek dat hierdie prent kykers ligter sal laat voel wanneer hulle huistoe gaan.”
Die fliek is saam met Paulo Areal, die man agter nog ’n SAFTA-juweel – Ellen Pakkies, vervaardig en hulle het dit reggekry om van Suid-Afrika se top akteurs, asook nuwe talent, saam te trek vir hierdie spesiale projek. Een van hulle is Clifford Joshua Young, wat sy rolprent-debuut maak as Daryn Jnr.
“Toe ek Brett se oproep kry, was ek letterlik besig om promosiewerk te doen in ’n groot glas boks by die V&A Waterfront,” vertel Clifford oor sy rol. “Ek was vir vyf dae daar binne en alhoewel ek ’n goeie gevoel gehad het oor my oudisie, kon ek nie glo dat so ’n geleentheid my uiteindelik te beurt geval het nie. Ek wou nog altyd saam met Brett werk en om saam
met hom hierdie pad te loop, is ’n droom wat waar geword het. Om Daryn Jnr te speel het my lewe verander.”
eVOD is eMedia se nuutste aanlyn-stromingsdiens, wat in Augustus vanjaar geloods is, waarop kykers sonder ’n maandelikse intekening dramas, rolprente en dokumentêre kan kyk met die opsie om op te gradeer na ’n premium-kykervaring. “Ons is passievol daaroor om in plaaslike talent en vervaardigde vermaak te belê,” sêeMedia.
Die rolprent is gedurende grendeltyd in Johannesburg verfilm, met kinematografie deur Dino Benedetti (Hotel), produksieontwerp deur Chantel Carter (Blood Psalms, An Act of Defiance), redigering deur C.A. van Aswegen (Vir die Voëls, Vir Altyd) en klankbaan deur Loki Rothman (Vergeet My Nie, Liewe Kersfeesvader).
Kyk die lokprent vir DARYN’S GYM hier onder en hou eVOD (https://watch.evod.co.za) dop gedurende Desember 2021. As jy in Johannesburg is en dit graag op die grootskerm wil sien, besoek The Bioscope vir die Suid-Afrikaanse Onafhanklike Rolprentfees op 25 November 2021.
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/darynsgym
Instagram: @darynsgym
Hutsmerk: #darynsgym #weightsbeforedates #killemwithkindness
IMDb: https://www.imdb.com/title/tt13582950
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za