Gewilde TIKTOK-invloeder, K1NGBERT0, begin die nuwe jaar met iets totaal onverwags!
Een van Suid-Afrika se gewildste TikTok-invloeders, Roberto de Gouveia (beter bekend as KingBerto of @k1ngbert0), het die dapper besluit gemaak om die nuwe jaar met ’n nuwe naam te begin.
“Ek dink dat wie ek regtig is verlore raak agter my huidige aanlyn-persona, want mense neem aan dat ek arrogant is omdat ek na myself verwys as ‘king’ en die teendeel is eintlik waar,” verduidelik hy oor hoekom hy sy naam na @iam_roberto_ verander het. “Ek dink geensins dat ek beter is as ander omdat ek baie volgelinge op sosiale media het nie. So baie het in die laaste maand in my lewe verander en ek wil 2022 op ’n uitsonderlike manier afskop!”
Hy sê verder: “Wanneer mense my in persoon ontmoet sê hulle altyd dat ek ’n beter mens is as wat hulle gedink het ek sou wees. Ek hou nie daarvan dat ek arrogant en ontoeganklik voorkom nie. Ek hoop dat die nuwe naam mense se persepsie oor my sal verander.”
Die sewe-en-twintig-jarige tekkie-liefhebber, pizza-slaaf, tegnologie-entoesias en rolmodel, wat al saam met verskeie groot handelsmerke gewerk het, soos Lamborghini, POPL, Levi’s, Starbucks, Universal Music en Samsung, om maar net ’n paar te noem, het tans 1.1-miljoen volgelinge op TikTok en naby 50 000 op Instagram en hy glo dat sy nuwe gebruikersnaam slegs ‘n positiewe invloed op sy gewildheid sal hê.
“Ek dink die enigste uitdaging gaan wees dat mense moet onthou dat ek nie meer K1ngbert0 is nie, so my doelwit is om hulle te herinner om my nuwe gebruikersnaam te soek. Ek beplan om baie meer plasings te maak hierdie jaar en glo dat mense sommer gou aan die nuwe naam gewoond sal raak,” sê hy.
Volgens dié begaafde inhoudskepper, moes hy sy besigheid toemaak as gevolg van die Covid-19 pandemie. Daarom het hy besluit om nou voltyds op sy aanlyn-loopbaan te fokus. “Ek is besig om aan my gesondheid en fiksheid te werk en is in die proses om my YouTube-kanaal weer aan die gang te kry. Basies wil ek myself so besig as moontlik hou met dit waaroor ek passievol is.”
Roberto is in Germiston/ Boksburg gebore en dit is ook waar hy saam met sy enkelma grootgeword het, met wie hy steeds ’n hegte band het. Hy was in Laerskool Rynfield en het aan Hoërskool Benoni gematrikuleer.
Aanvanklik, het hy begin om TikTok-video’s op te laai as iets om homself mee besig te hou. Nadat een van sy eerste video’s egter soos ’n veldbrand versprei het, het hy baie skielik die rol van invloeder aangeneem en gou besef dat mense graag wou hoor wat hy te sê het. Die res is geskiedenis!
@iam_roberto_ wil eendag met herinneringe, en nie net leë drome nie, doodgaan en het nog baie planne vir die toekoms, soos om vir sy ma haar droommotor en -huis te koop om dankie te sê vir haar onvoorwaardelike ondersteuning. Maar vir nou fokus hy op die hede.
Sy hoofdoel is om sy bewonderaars te inspireer en van die wêreld ’n beter plek te maak. “As net een persoon sê dat ek hom geïnspireer het om iets te verander of te bereik, is ek tevrede. Al wat ek graag met my lewe wil doen, is om hoop en positiwiteit te versprei…”
SOSIALEMEDIASKAKELS:
TikTok: www.tiktok.com/@iam_roberto_
Instagram: www.Instagram.com/iam_roberto._
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCEmE0tU9PLxjdjp-mCBcN6Q
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za