WENKE VIR JONG ONTWERPERS – KLIM SÓ DIE LEER NA SUKSES!

Die modebedryf lyk glansryk – dink aan treffende modelle in asemrowende skeppings – en modeontwerp is dikwels ’n gewilde beroepskeuse vir dié wat hul kreatiwiteit met hulle passie vir mode wil saamsmelt. Dié bedryf is egter ook mededinging, met nuwe toetreders wat onseker is oor hoe om hul merk te maak.

Volgens die bekende Suid-Afrikaanse ontwerper Diaan Daniels, wat al vir meer as 25 jaar sy stempel in die modebedryf afdruk, is daar ’n paar stappe wat jong ontwerpers kan volg om hulself te vestig en ’n suksesvolle loopbaan in die modebedryf te hê. Hy waarsku egter, “dit is 99% harde werk, 1% glans, en daar is geen ruimte vir ego’s. Daar is ook geen kortpaaie nie”.

In terme van opleiding en kwalifikasies, meen Daniels dat ’n diploma in modeontwerp dikwels ’n vereiste is, maar dat daar ook ontwerpers sonder formele kwalifikasies is wat ongelooflike werk doen. “Dit gaan uiteindelik oor passie en toewyding. Jy kan verseker jouself leer, en ’n goeie mentor kan van onskatbare waarde wees.” Hy voeg by: “Onthou ook, mode staan nooit stil nie, so selfs al het jy ’n diploma is dit belangrik om aanhoudend nuwe tegnieke en vaardighede aan te leer.”

Ongeag hul opleiding, sê hy daar is ’n paar eienskappe wat alle ontwerpers in gemeen het. “Suksesvolle modeontwerpers het natuurlike kreatiewe intuïsie, is uitstekende probleemoplossers, het dissipline en geduld, en hulle gee nooit op nie. Daar is baie dinge wat jy kan aanleer, maar dié eienskappe moet deel van jou DNS vorm.”

Uit ’n besigheidsoogpunt verduidelik hy dat modeontwerp, alhoewel kreatief, uiteindelik ’n besigheid is en moet sodanig bedryf word. “As daar elemente is waarmee jy nie goed is nie, byvoorbeeld finansies of bemarking, moet jy kenners aanstel wat jou kan ondersteun. Die doel is om op alle fronte jou besigheid professioneel uit te beeld. Verhoudings is ook uiters belangrik – nie net met kliënte nie, maar ook met ander diensverskaffers soos fotograwe en grimeerkunstenaars, die wyer bedryf, en selfs die media. Die opbou van ’n netwerk is noodsaaklik vir sukses.”

Diaan se wenke vir aspirant-ontwerpers sluit ook in:

Wees outentiek jouself: Jy kan – en moet – deur ander geïnspireer word, maar jy moet van die begin af jou unieke stempel op die bedryf afdruk.

Maak die meeste van leergeleenthede: Wanneer die geleentheid om van meer gevestigde ontwerpers te leer hom voordoen, gryp dit aan. Dit kan jou help om sekere ontwerpelemente baas te raak, maar ook om ander kreatiewe en besigheidsvaardighede aan te leer en sodoende jou doelwitte vinniger te bereik.

Wees bewus van nuwe neigings, maar bly getrou aan jou eie styl: Weet wat in die modebedryf aangaan, maar onthou dat nie al jou kliënte die nuutste modes kan of wil volg nie. Hou dus nuwe neigings en internasionale modes dop, maar pas dit aan volgens jou eie styl en dit wat jou kliënte wil hê.

Spesialiseer in dit waarvan jy hou: Die kanse dat jy suksesvol gaan wees is beter as jy iets doen waarvan jy jou. Moet dus nie trourokke ontwerp as jy ’n passie vir mansklere het nie. Wees egter ook realisties oor die aanvraag in die mark.

Weet wat jy werd is: Wees bewus van wat jou portuur in die bedryf vir hul ontwerpe vra, maar onthou ook dat mense bereid is om vir diens, gehalte, en betroubaarheid te betaal. Mense belê in mense.

Vertoon jou vaardighede: Wys alle aspekte van jou werk sodat mense kan sien waartoe jy in staat is. Tydlose en klassieke ontwerpe is altyd in aanvraag, maar moenie bang wees om risiko’s te vat en ander opsies te verken nie.

Moenie bang wees vir mislukking nie: ’n Kernaspek van enige kreatiewe bedryf is ‘leer en probeer’. Moet dus nie bang wees om foute te maak of af en toe te misluk nie – dit is dikwels die beste leerskool.

Goeie gehalte kan bekostigbaar wees: Dit is moontlik om oorspronklike ontwerpe van goeie gehalte teen bekostigbare pryse te lewer. Maar dit verg tonne navorsing, geduld, en soos voorheen genoem, ‘leer en probeer’.

Sy finale raad aan jong ontwerpers? “Pas jou naam op – jy het net een.”

Oor die kenner:

Diaan Daniels is ’n bekende Suid-Afrikaanse ontwerper, besigheidsman en televisiepersoonlikheid.

Hy besit Diaan Daniels Couture en sy ontwerpe is al deur talle plaaslike asook internasionale sterre gedra. Hy was ook die aanbieder van die VIA-program Die Bruid-boetiek.

Diaan, wat in Bloemfontein grootgeword het en tans in Johannesburg woon is sedert 1998 aan die voorfront van die modebedryf en deel graag sy storie as ontwerper en besigheidsman met ander.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/DiaanDanielsCouture

Instagram: @diaandanielscouture

Webwerf: www.diaandaniels.com

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webblad: www.starburstmusic.co.za