TIENER VS. OUER: WENKE VANUIT ‘N TIENER SE OOGPUNT – HOE OM JOU TIENER BETER TE VERSTAAN

hilde

Tienerwees is ’n uitdagende tyd – vir kinders én ouers. Sosiale media inhoudskepper en tienerrolmodel, Hildegard Havenga,deel ’n paar wenke met ouers om hulle te help om die tiener in hul huis beter te verstaan.

Dit is geen geheim dat ouers en hul tieners dikwels koppe stamp nie. Die probleem is egter nie dat hulle nie oor die weg kom nie, maar eerder dat hulle nie probleme wat dikwels in dié stormagtige tyd opduik, probeer oplos nie. Ja, dit is soms makliker om te maak asof niks gebeur het nie, maar dis juis waar dinge skeefloop…

Tieners wil situasies beheer, self hul struikelblokke oorkom, en uit hulle eie foute leer. Ouers, aan die ander kant, wil hul tieners die seer en swaarkry van die lewe spaar, en tree dan oorbeskermend op.

Wanneer albei partye voel dat daar nie na hulle geluister word nie, is dit is ’n resep vir ’n ramp!

Boonop kry tieners se selfbeeld ’n knou wanneer hulle voel dat hul ouers nie in hulle vermoëns om sekere situasies te hanteer, glo nie.

So, wat kan ouers doen om hul tieners beter te verstaan en ondersteun?

Die beginpunt is vertroue…

Sonder ’n sterk vertrouensverhouding gaan almal swaarkry. Om so ’n verhouding te bou moet ouers betrokke wees en in hul tiener se lewe belangstel. Jou kind moet weet ‘you’ve got their back’. Tieners wil voel dat hulle gemaklik kan praat oor dom goed wat hulle al aangevang het sonder dat hul ouers paniekerig raak oor elke klein foutjie, en dat hul ouers hulle ondersteun en vertrou.”

Respekteer jou tiener se privaatheid…

Tieners waardeer hul privaatheid, veral wanneer dit kom by persoonlike sake, gesprekke met vriende, en hul eie gedagtes en gevoelens. As jou kind af lyk en nie wil gesels nie, beteken dit nie dat hulle jou nie meer in hul lewe wil hê nie. Soms het hulle net tyd nodig om oor situasies te dink – as die tyd reg is, sal hulle daaroor praat. So, stel opreg belang in jou kind se alledaagse lewe met informele geselsies, maar gee ook vir jou tiener ruimte en tyd en moet hulle nie dwing om alles met jou te deel nie. Daar is ervarings wat elke jongmens eenvoudig self moet verwerk. Wys dat jy jou tiener se privaatheid respekteer deur dit duidelik te stel dat jy beskikbaar is om te luister, en dit dan aan jou kind oor te laat.”

Moenie wegskram van ongemaklike gesprekke nie…

Al lyk dit soms of tieners nie na raad wil luister nie, is daar sekere dinge waar elkeen van hulle leiding nodig het. Moedig dus ’n omgewing aan waarin jou kind gemaklik voel om oor enigiets te gesels, of dit nou vreugde of frustrasies is. En moenie ineenkrimp as jou kind iets sê wat jou skok nie. Wanneer dit kom by ongemaklike gesprekke, verwag tieners dat hul ouers eerlik en direk sal wees – ‘call a spade a spade’. Kies die regte tyd en plek om te gesels – nie voor maats nie! – en luister aandagtig na wat gesê word. Deel inligting en feite eerder as opinies sodat jou tiener ’n ingeligte besluit kan neem, en toon begrip sonder om te oordeel of kritiseer. Fokus op die probleem, nie op jou gevoelens daaroor nie, anders gaan jou tiener toeslaan en in die toekoms nie met jou oor kwessies wil praat nie.”

Bied onvoorwaardelike ondersteuning…

Tieners gaan deur ’n groot groei- en ontwikkelingsfase. Dit sluit in fisiese, emosionele, en intellektuele groei. Wees geduldig en ondersteunend tydens hierdie tyd en moedig ons aan om ons eie unieke pad te volg na selfontdekking. Die realiteit is dat tieners dikwels beter funksioneer wanneer hulle alleen deur ’n moeilik tyd gaan. Dit is deel van grootword, en leer hulle hoe om onafhanklik te wees. Deur ruimte vir onafhanklikheid te gee en vertroue in hul tiener se vermoëns te toon, kan ouers ’n gesonder balans tussen besorgdheid en vryheid handhaaf.”

Maak vrede met hul vriende…

Tieners ken hul vriende, maar ouers het ook dikwels ’n intuïsie wat nie geïgnoreer kan word nie. Gaan drink koffie saam met jou tiener en hul vriende om hulle beter te leer ken. Toon belangstelling en vra vrae – miskien verander jou opinie. Indien nie, gesels met jou kind daaroor. Wees bereid om jou opinie te verduidelik, maar luister ook na hulle perspektief. Baseer die gesprek op begrip en respek, en aanvaar dat jy soms vrede moet maak met jou kind se keuses, al stem jy nie daarmee saam nie. As dit die verkeerde keuse is, sal hy/ sy dit wel op ’n stadium besef.”

Wees bewus van skoolsake…

Eksamens en toetsreekse is ’n stresvolle tyd vir tieners. Ouers kan help deur n kalm en ondersteunende omgewing te skep waarin hulle ten volle kan fokus sonder om oorlaai te voel. Kyk wel uit vir rooi vlae en help om oplossing te soek as jou kind se punte skielik skerp daal. Moet egter nie blindelings jou tiener, hul vriende, hul foon of sosiale media blameer nie! Oorweeg alle moontlike redes. Indien nodig, soek akademiese ondersteuning in die vorm van tutors of studiegroepe. Onthou, skool is ongelooflik stresvol vir die meeste kinders. Probeer dus fokus op jou kind se pogings eerder as net op die uitslae – erken klein suksesse en gee positiewe terugvoer. Onthou, akademiese prestasie is nie alles nie.”

Help hulle om hulself te help…

Leer jou kind hoe om selfsorg toe te pas en te let op ons emosionele en fisiese welstand. Moedig jou tiener aan om gesonde gewoontes te hê soos genoeg slaap, gesond eet, en om emosies op ’n gesonde manier emosies te hanteer.”

Wanneer dinge skeefloop…

“’n Groot deel van grootword is dat tieners grense gaan toets en reëls gaan bevraagteken. Langs die pad gaan reëls – en vertroue – dus verbreek word. Wanneer dit gebeur, praat daaroor – kommunikasie is die sleutel tot begrip. Bied jou kind die geleentheid om hul sê te kan sê oor die situasie, hoe hulle daaroor voel en wat hul geleer het. Terwyl julle as gesin die pad stap om vertroue te herbou, probeer om jou kind se klein suksesse en positiewe gedrag te erken en te beloon.”

Kyk uit vir jou kind…

Daar is baie struikelblokke om te oorkom as jy jonk is, en alhoewel tieners dit nie altyd sal erken nie, is daar duidelike tekens dat jou kind sukkel. Dit is baie belangrik vir ouers om sensitief te wees vir hierdie tekens en om ’n ondersteunende omgewing te skep waarin jongmense gemaklik voel om hulle emosies en uitdagings te bespreek.”

Hildegard meen dat ouers moet let op die volgende:

  • Geen passie vir sport of aktiwiteite: As alles eenvoudig te veel raak kan tieners hul passie verloor vir dinge waarin hulle normaalweg floreer.
  • Teruggetrokkenheid van vriende en familie: Wanneer hulle te veel hooi op hul vurk het, sien hulle nie kans om nog by vriende en geliefdes ook uit te kom nie. Hulle stoot gewoonlik die mense naaste aan hulle weg.
  • Moeg, uitgebrand en depressief: Kyk uit vir tekens van angs, depressie of uitbranding. Dit volg dikwels wanneer tieners vir ’n lang tydstip gefokus was en alles gegee het; daarna sien hulle eenvoudig nie kans om die hele proses te herhaal nie. Dié tekens kom ook soms voor ná ’n groot teleurstelling.

Skermtyd…

Nog iets waaroor ouers en tieners dikwels koppe stamp, is skermtyd en sosialemediagebruik. Hildegard sê:

  • Onderhandel met mekaar oor wat redelike en regverdige skermtyd is sodat beide partye tevrede is.
  • Stel duidelike tye en plekke waar fone nie gebruik mag word nie, soos by die etenstafel of tydens gesinsaktiwiteite.
  • Wees ’n voorbeeld deur self ook grense te hê vir skerm- en sosialemediagebruik.
  • Bespreek van tyd tot tyd die reëls werk en wees bereid om aanpassings te maak wat by die jou tiener pas.
  • Moenie preek oor die gevare van sosiale media nie – jou tiener is bewus daarvan. As jy bekommerd is oor iets, praat eerlik met jou kind daaroor.

Hildegard is ’n bekroonde Suid-Afrikaanse sosiale media inhoudskepper, tienerrolmodel, redenaar, spreker, skrywer, model en aktrise. Dié formidabele vyftienjarige van Pretoria se passie is om ’n stem vir jongmense te wees en hul op te hef en te bemagtig waar sy kan. Haar doelwit is nie net om die beste te maak van die tyd wat sy nog op skool oor het nie, maar ook om lewens te verander.

Deur hierdie wenke te deel, hoop ek om gesinne se reis en leerkurwe ’n bietjie makliker te maak deur ouers te help verstaan hoe ons tieners dink en voel,” sluit sy af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook: https://www.facebook.com/hildegardhavenga?mibextid=kFxxJD

Instagram: @hildegard.havenga

TikTok: @hildegard.havenga

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za