Hester van der Merwe – FPI Finansiële beplanner van die jaar!
Hester van der Merwe is einde Oktober vanjaar aangewys as 2020 se Finansiële Beplanner van die Jaar tydens die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) se jaarlikse toekenningseremonie by Pigalle Restaurant in Sandton.
Hester sluit aan by stigterslid en direkteur, Gerrit Viljoen (2003), en Jan-Carel Botha (2012) as die firma, Ultima Financial Planners se derde wenner van hierdie gesogte titel.
“Ons is baie trots op Hester dat sy, te midde van ’n uitdagende jaar, kon deurdruk met die kompetisie. Mense besef nie altyd hoeveel werk, bo-en-behalwe haar verpligtinge by Ultima, in so iets ingaan nie. Ons het egter nooit getwyfel in haar vermoëns nie en het geweet dat sy ’n baie unieke rol speel wat haar vertrouensverhouding met kliënte aanbetref en dat sy voortaan ook ’n groot rol gaan speel in opleiding op hierdie gebied,” Ultima Financial Planners se direkteur, Hendri de Klerk.
Hierdie toekenning word beskou as die hoogste eer wat ’n finansiële beplanner in Suid-Afrika kan verwerf en word gesien as die toppunt van sukses in hierdie bedryf.
Die kandidate moes ’n streng keuringsproses ondergaan en hulle vaardighede en kundigheid ten toon stel deur middel van talle praktiese uitdagings.
Volgens die FPI, het Hester haarself van die kompetisie onderskei met haar uitgebreide kennis, noukeurige finansiële beplanning en buitengewone persoonlike toewyding aan haar kliënte.
“Ek is absoluut verstom oor die jare harde werk en deursettingsvermoë van elke deelnemer om te kom waar hulle vandag is,” sê Lelané Bezuidenhout, hoof uitvoerende beampte van die FPI. “2020 het my weereens geleer dat daar nie iets is soos ’n gelukskoot nie – net harde werk, deursettingsvermoë en professionaliteit.”
Ander 2020-wenners sluit in BDO Wealth Advisers (Professionele Maatskappy van die Jaar), Didintle Mokonoto (Diversiteit- en insluitingstoekenning), Caroline da Silva (Harry Brews-toekenning), Francois du Toit (Dit Begin Met My-toekenning) en Brandon Ellse (Top-kandidaattoekenning).
“Eerstens wil ek net alle eer aan my Hemelse Vader gee wat alles moontlik maak. Ek voel ongelooflik dankbaar om vanjaar se wenner te wees. Alhoewel ek opgewonde en senuweeagtig is, kan ek nie wag om aan die werk te spring en te sien wat die jaar inhou nie,” sê Hester oor die voorreg om met hierdie toekenning vereer te word. “Baie dankie aan die FPI wat hierdie rol aan my toevertrou het! Ek verwag dat dit ’n strawwe leerkurwe gaan wees en ek beplan om dit my beste probeerslag te gee.”
Hester het meer as sewentien jaar se ervaring in die finansiële bedryf en het in 2015 by die firma Ultima Financial Planners aangesluit, waar sy as direkteur, finansiële beplanner en –adviseur werk.
Vóór dit was sy ’n finansiële beplanner by FNB en geniet sy dit nog altyd om waarde tot haar kliënte se lewens te voeg.
Sy het aanvanklik Regte studeer aan die Univeriteit van Pretoria. Nadat sy die finansiële mark betree het, het sy egter besluit om verder te leer en het sy ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat, asook ’n sertifikaat in Gevorderde Trustreg aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Haar langtermyn-doelwit is nie net om haar professie te bevorder as ambassadeur van die FPI nie, maar ook om vroue uit alle vlakke van die samelewing op te voed en te inspireer.
“Ek dink dit is tyd dat vroue hulle finansiële stewels aantrek en daardie berg uitklim! As ek iemand kan inspireer om ’n beplanner te word, beheer te neem van haar eie finansiële situasie, of dalk net betrokke te raak by haar huishouding te finansies, sal ek voel dat ek my jaar goed benut het,” deel sy.
Hester woon tans in Pretoria saam met haar man en drie kinders. Wanneer sy nie werk nie, geniet sy dit om bergfiets te ry, te kamp, te lees, te bak, tyd saam met haar familie te spandeer en selfdoenprojekte in en rondom die huis aan te pak.
Sy glo dat elke mens ’n unieke geldstorie het en wil mense graag help om dit te verstaan, sodat hulle beheer van hulle finansies kan neem:
“Ek wil graag soveel mense as moontlik aan hulle geldstorie voorstel. Dit sluit weer aan by my oortuiging dat ons eers met die mens en dan met die portefeulje werk. Elkeen van ons het goed in ons lewe wat beïnvloed hoe ons met geld werk. Ek wil mense help om dit te verstaan, sodat hulle kan aksie neem en hulle omstandighede kan verander.”
Hester deel elke week ‘n weeklikse finansiële wenk op haar Facebook-blad.
Volg haar gerus hier om jouself ingelig te hou: https://www.facebook.com/HestervanderMerweUltima
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za