Nog internasionale erkenning vir skreeusnaakse kaalnael-komedie, Kaalgat Karel!
Alhoewel Suid-Afrikaners eers op Erfenisdag 2021 die geleentheid sal kry om Boondogle Films se splinternuwe Afrikaanse romantiese komedie – KAALGAT KAREL – te sien, het dit reeds ’n baie goeie indruk gemaak op internasionale rolprentkenners en -liefhebbers.
Dié briljante fliek, met Francois Jacobs (Donkerland, Vir die Voëls, Pad Na Jou Hart) en Christia Visser (Tess, Ballade vir ’n Enkeling, Hollywood in my Huis) in die hoofrolle, is pas aangewys as Beste Speelfilm en Beste Internasionale Produksie by die Lit Laughs Internasionale-komediefees in Brittanje.
Hierdie nuutste prestasie volg kort nadat dit ’n Writers Guild of South Africa (WGSA) Muse-toekenning gewen het vir Beste Vervaardigde Rolprentdraaiboek en gekies is as Beste Speelfilm by die Gelos-komediefees in Moskou en Beste Romantiese Komedie by die Poor Life Choices-komediefees in Los Angeles.
“Ons is so opgewonde dat KAALGAT KAREL as Beste Speelfilm aangewys is by verskeie rolprentfeeste in plekke soos Los Angeles, Londen en Moskou. Ons kan nie meer wag om dit op plaaslike bodem te deel nie. In hierdie tydperk van nasionale trauma, hoop ons dat dit kan help om komiese verligting te bring en mense deur humor te verenig,” sê regisseur Meg Rickards, wat die film geskryf en vervaardig het saam met haar man, Paul Egan. Die uitvoerende vervaardiger, was Kim Williams wat in Februarie 2021 tragies oorlede is.
Verder is die prent ook gekies om deel te wees van verskeie ander internasionale rolprentfeeste, waaronder die Smile International-rolprentfees in Holland (waar dit eervolle vermelding ontvang het), Boden Internasionale-rolprentfees in Swede, Phoenix International Genre Festival in die VSA, Ysland-komediefees, die Calgary Internasionale-rolprentfees in Kanada en die Join the Craic – Comedy of the Mind-rolprentfees in Belfast.
“Dit is ’n voorreg om soveel internasionale erkenning te kry. Die fliek het verskeie toekennings gewen en ons kan nie wag om dit vir ons land se mense te wys nie,” voeg Paul by.
KAALGAT KAREL is die skreeusnaakse verhaal van Karel Venter (Jacobs), – ’n dertigjarige kaalnaeler wat die ongewensde aandag wat sy aksies by sportgeleenthede kry geniet! Hy raak halsoorkop verlief op die paramedikus, Rita (Visser) wat hom red nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop, maar daar is een probleem; sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.
Buiten vir uitstaande kinematografie deur Bert Haitsma, ’n indrukwekkende klankbaan deur Loki Rothman, en ’n tong-in-die-kies-temalied deur Jack Parow – Altyd Op Vakansie – spog die fliek ook met ’n sterbelaaide rolverdeling, waaronder Schalk Bezuidenhout, Siv Ngesi, Tracey-Lee Oliver, Rosebelle Clasen en Eden Classens.
Plaaslike gehore kan hierdie lawwe komedie, met Engelse onderskrifte, in bioskope sien vanaf 24 September 2021. Dit word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en is vervaardig in samewerking met kykNET, die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie (OKOK), die –Kaapse provinsiale kuns-en-kultuurraad (ECPACC), Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en handelsmerkvennote Galito’s, Red Alert en die Hathaway-gastehuisgroep.
Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=VDtBaSs6PzE
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/KaalgatKarel
Instagram: @kaalgatkarel
Twitter: @kaalgatkarel
Hutsmerk: #KaalgatKarelFilm
PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: alishia@starburstmusic.co.za
Webblad: www.starburstmusic.co.za